top of page

Die Verskillende Danse

Wals:
Dit is die gewildste en geliefdste en mees bekende dansvorm van alle tye. Vandat dit sedert die begin van die 19de eeu oor die wereld begin versprei het, het dit nog nooit in gewildheid afgeneem nie. Daar bestaan feitlik nie ‘n vertelling omtrent danspartye waar die wals nie genoem word nie. In die eerste vier decades van hierdie eeu, het die wals ten minste 20% van ‘n dansparty uitgemaak. Die wals is ‘n rustige drie-tyd dans.

Mazurka:
Die Mazurka is ook ‘n baie ou dans wat gedurende die 16de eeu op die vlaktes van Mazovie in Pole ontstaan het. Die inwoners van hierdie streek, het bekend gestaan as die Mazurs. In die loop van die 7de eeu, het hierdie dans oor die hele Pole en van daar oor die hele wereld versprei.
Die mazurka is ‘n dans wat dikwels groot bewondering uitlok omdat dit fyn en kunstig uitgevoer word. Dit is ook ‘n drie-tyd dans, maar het ‘n baie meer definitiewe tempo en baie meer energie as die wals. Waar die klem by ‘n wals op die eerste telling val, le die klem by die mazurka op die derde telling.

Kwadriel/kadriel:
Die kadriel het ongeveer teen 1750 sy beslag in Frankryk gekry, maar eers teen die 19de eeu werklik ontwikkel. Die reisigers O.F. Mentzel en Cornelius de Jong het die dansvorm in die 18de eeu in die Kaap teegekom. Dit het gewild gebly gedurende die 19de eeu, maar het in die 20ste eeu in gewildheid afgeneem.
Dit is ‘n vierkant dans in vier tyd. Vier pare staan in die vorm van ‘n vierkant. Twee teenoorgestelde pare staan bekend as die koppe en die ander twee as die sye. Die koppe voer passies uit wat weer deur die sterte herhaal word. Die pare wat kyk, hou tyd deur hande te klap. Dit is ‘n vrolike dans wat baie deur jong mense gedans is. Die pare het egter min fisieke kontak. Tong in die kies gese: seker omdat ouers verkies het dat jong mense nie mekaar te styf vashou nie.

 
Polka:
Die polka het sy ontstaan in Boheme gehad as ‘n lewendige rondedans in twee tyd. Die gewildheid wat die dans in die 19de eeu verwerf het, het verder uitgebrei in die 20ste eeu.
Die polka is ‘n dans wat besonder wyd gedans is, veral in Suid-Afrika.

Paddika:
Die Afrikaanse naam “paddika” is volksetimologies gevorm uit die Franse term pas de quatre, wat letterlik vierpas beteken. Dit is ‘n baie rustiger statige dans. Daar is egter nie veel oor die dansvorm opgeteken nie.

Setties:
Daar word algemeen aanvaar, dat die schottische, wat in die Afrikaanse volksmond, setties geword het, van Skotse oorsprong is. Die musiek en aard van die dans dui egter ook op sterk Duitse invloed.
Die setties vorm saam met die wals en die polka die groepie van drie danse wat ongetwyfeld die dansbaan vir ten minste die eerste deel van die 20ste eeu heeltemal oorheers het. Onder Tradisionele Boeredansers is dit egter vandag nog die geval.

Ander danse wat minder bekend en gewild is, is die
Minuet: Wat as die mees elegante dans beskou word. Dit is stylvol, grasieus en statig. Dit is ‘n voor klassieke dansvorm en eindig in vandag se moderne ballet. Dit is ‘n dans wat dan ook normaalweg deur ouer mense gedans is.

Kotiljons: Die kotiljons het in die tyd van Lodewyk XIV in Frankryk ontstaan. Die vorm van die dans was baie soos die kadriel, in vierkantvorm, maar daar is ook ‘n groot aantal ander figure opgeteken.

Lansiers: Die lansiers is eintlik ‘n variant van die kadriel, dus ook ‘n vierkantdans vir vier pare en was veral rondom 1840 baie in die mode. Dit is ook ‘n baie rustige en statige dans en daarom ook deur veral ouer mense gedans. Dit is baie op bruilofpartytjies gedans. Die bruidspaar en strooimeisies en strooijonkers het dit veral gedans, ook die bruidspaar, saam met hulle ouers.

Galop: Dit is ongetwyfeld die uitputtendste en eenvoudigste dans van die 19de eeu. Dit was ‘n baie lewendige twee tyd dans en was ‘n nabootsing van die galopbeweging van die perde.

Vastrap: Dit is een van die danse waaroor die minste bekend en opgeteken is. Wat ons kon aflei, is dat dit ‘n dans is wat gewoonlik deur een persoon uitgevoer is. Die persoon het dan eienaardige bewegings met die bene en voete gemaak. Later is dit deur meer mense gedans, maar dit bly relatief onbekend.

Riel en askoek is danse wat grotendeels deur die bruinmense gedans is. Askoek, die kante van voete of voetsole word teenmekaar geslaan terwyl daar in die lug gespring word.

Tradisionele Boeredansvereniging

bottom of page